Lees 2 Samuel 5:1-5, 9-10.
“Jy moet vir my volk Israel ’n herder wees” (v 2).
Die Israelitiese leiers het nie geweet dat die priester Samuel reeds vir Dawid klein-klein tot koning gesalf het nie. Hulle het wel gesien hoe hy sy mense in die oorloë aangevoer het. Daarom was dit vir hulle nie juis ’n kwessie nie: Dawid sou in die gestorwe Saul se plek koning word.
Om Dawid hiervan te oortuig, gaan diep hulle selfs ’n Goddelike uitspraak van iewers op: “Die Here het vir u gesê …” (v 2).
En so lees ons die eerste berigte oor Dawid se amptelike koningskap: hoe hy begin regeer, hoe lank dit uiteindelik geduur het, hoe hy in ’n vesting gaan woon het wat hy Dawidstad genoem het – “en,” lees ons, “die Here die Almagtige was by hom” (v 10). Die Opperherder het na sy volk se herder omgesien.
Só werk dit met die Here en sy kinders. Of hulle nou herdersvan-vele is en of hulle na ’n troppie-van-een moet kyk, die Herder sal sorg dat hulle niks kortkom nie. Hy sal hulle te midde van die dolle gejaag in groen weivelde laat rus en hulle tussen al die lawaai deur by waters bring waar daar vrede is.
Hy weet hoe broos hulle is. Hy gee hulle nuwe krag vir die paaie waarop Hy hulle lei.
Selfs die donkerste dieptes maak hulle nie bang nie, want die Herder se sorg omsluit hulle. In sy hande is hulle veilig. Hy bederf hulle met ’n banket van sy goedheid – die oorvloed, die gasvryheid, oorweldig hulle. Hul teenstanders kan bloot toekyk …
Hulle, hierdie herders, weet: Waar hulle ook al swerf en by wie hulle ook al vertoef – hulle het net een werklike huis: hul Herder. By Hom is hulle tuis.
Van altyd af is U my huis, Here, my Herder. En tot in ewigheid.
Barend Vos