Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die Koning se stad

Lees Psalm 48.

Aan Hom kom al die lof toe hier in die stad van ons God … op sy heilige berg (v 2).

Waar woon Hy, die groot Koning van die hoogste hemel?

In sy stad, sal hulle antwoord. Sy stad op sy hoë, heilige berg. Hier waar ons ook woon, hier waar ons veilig is. Die wêreld se ko­nings het ons al probeer aanval, hulle het saamgesweer en gedink: Nóú …!

Maar toe hulle nog ver was, het hulle die stad gesien, geskrik, omgedraai en weggehardloop. Almal het toe geweet: Dit is die stad van die konings se Koning. Hierdie plek sal vir altyd vas bly staan. En as jy, kansvatter, weet wat vir jou goed is, bly ver weg. Dit is sy eiendom dié, hier beskut Hy sy mense.

Kyk mooi hoe lyk hierdie stad, julle bewoners daarvan. Tel sy torings, meet sy mure, verbly julle in die versterkte deure. En sorg dat jul nageslag al hierdie besonderhede ken, sodat dit ook vir hulle bemoedig. Ja, wees bly!

Só gaan die musikale Koragiete hul volksgenote voor, en so word hierdie juiglied van geslag tot geslag aangegee. Almal sing saam: “Dié God is ons God vir altyd; Hy sal ons altyd lei” (v 15).

Ons, gelowiges, dié wat die Here ken wat God-by-ons is, moet dikwels só sing. Met byna vergete woorde en beelde en wysie, en saam met ’n tradisie wat duisende jare oud is. ’n Slag God se teenwoordigheid onbevange vier. Hy is hier! Kom, laat ons sing!

U hoor my lied, Here. U sien my bewerige, bang hart. Help my om dié woorde en wysie te onthou. Leer my sing, selfs in die nag.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.