Lees 2 Korintiërs 12:2-10.
Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word (v 8).
Ag, daardie ellendige doring in die vlees … Dit het al spreekwoordstatus verwerf, in al wat ’n taal is. Dese en gene gebruik dit om ’n ongewenste ongerieflikheid te beskryf, ’n klippie in ’n skoen.
Die meeste Bybellesers weet waar dié sêding vandaan kom, dalk selfs wie dit oorspronklik gebruik het, en waar. Maar selfs hulle, die Bybellesers, óns, is min gepla met Paulus se raaiselagtige verwysings na gesigte en openbarings, die wegruk na die derde hemel, die paradys. En of dit met of sonder ’n liggaam geskied het.
Ons oë flits daarby verby, reguit op pad na … ja, die doring in die vlees. Die Satangesant wat hom met vuiste slaan.
Die hele tyd wonder ons: Wat wás daardie doring? Was hy dalk aan ’t blind word, het hy epileptiese aanvalle gekry? Jy weet, sal sommige slimmes sê, en net soms met ’n knipoog, Paulus was nooit getroud nie …
Só word daar gespekuleer, selfs geskerts, want ons wil nou eenmaal weet wat was fout. Ook maar mens, ook maar nuuskierig …
Ook maar dom. Want hoe vreemd is dit nie dat selfs gelowiges, ons, by die eintlike rede vir Paulus se ontboeseming verby lees. Hoe hy, ná vele pleidooie voor die Here, moes hoor: “My genade is vir jou genoeg” (v 9).
Ons lees bo-oor die evangelie dat God se krag in ons swakheid sigbaar word. Dat geestelike belewenisse nie ons geloof se enigste voedingsbron is nie. Dat kampioengeloof nie bestaan nie.
Dat ons van genadebrood leef. Dat juis ons stomme magteloosheid die toonvenster van God se almag is.
Ook vir my, Here, ook vir mý is u genade genoeg. Versadig my daarmee!
Barend Vos