Lees Psalm 123.
Soos die oë van ’n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar … so is ons oë gerig op die Here ons God (v 2).
“Ek sien na U op,” begin hierdie digter sy psalm, wat eintlik ’n gebed is. ’n Pleidooi om ontferming.
U moet optree, soebat hy, U moet vir ons intree, want ons het genoeg gehad, ons kan nie méér sluk nie. Die oormoediges het die oorhand gekry, die hovaardiges kraai koning. “Ontferm U oor ons, Here …” (v 3).
Dit werk so: Die opkyk is ’n erkenning van wie jy is, ’n uiting van jou gesindheid teenoor Hom. Jy hier onder, verleë; Hy daar bo, verhewe.
Jy kyk op na Hom, in die hoop dat Hy na jou sal afkyk. Dat Hy jou sal raaksien. Dan, sê die psalmdigter, dán sal jy ook sien hoe Hy tot aksie oorgaan, en jy sal bly wees.
Dit is soos dit werk, ja. Die Here is nie my stuurjonge nie. Daar is nie sprake daarvan dat Hy spring as ek my vingers klap nie. Maar Hy hoor as sy kinders benoud na Hom roep en Hy sien as hulle desperaat na Hom kyk. Dán doen Hy soos en wat Hy weet reg en goed is, sodat Hy hulle daardeur kan bemoedig.
Nee, Hy hoef nie iets te doen nie. Maar Hy doen dit omdat Hy weet sy kinders het dit nodiger as brood om Hom in aksie te sien, hulle wat so na Hom opsien.
“Ontferm” is die groot woord hier, die noodroep. Dit is waarskynlik die grootste moontlike ontferming wat die Here aan sy kinders bewys: Ek sien jou oë is op My gerig. Kyk maar mooi! Kýk wat gaan Ek vir jou doen.
Ek kyk op na U, Here. Ek weet waar my hulp vandaan kom, Ontfermer!
Barend Vos