Lees 2 Samuel 6:1-5, 12b-19.
Dawid en die hele Israel het uitbundig voor die ark van die Here gedans (v 5).
Wat ’n vrolikheid! Ons hoor sommer die musiek en sien die dansery. En kyk, die koning dans los voor!
Ja-nee, dit is nie sommer ’n hierjy-optog nie. Dit is die feestelike vervoer van die ark van die Here. Die simbool van die Verbondsgod se teenwoordigheid by sy mense is uiteindelik op pad na ’n nuwe staanplek. Dit word bitter versigtig gedra en die streng voorskrifte word nougeset nagekom, veral ná die tragedie met Ussa.
Maar kom ons vergeet voorlopig daardie onbegryplike storie en verstom ons oor die feestelike oordaad – elke ses tree word daar glad ’n bul en ’n kalf geoffer! Kom ons gee ons saam met Dawid aan die luidrugtige feesoptog oor. Kom ons luister hoe juig die mense. Hoor net daardie ramshoring!
By die aankoms in die Dawidstad kyk ons net vinnig op, tref die oog van wyle Saul se dogter Mika. Ons sien vlugtig haar veragting raak, ons kyk weer weg. Ons kyk eerder hoe Dawid dans. Die vrolike prosessie het sy bestemming bereik.
Dan kom die laaste offer, die lank verwagte seën. O, en die begeerde kospakkies: Almal kry ’n spesiale brood, dadels, rosyntjies. Die ark van God staan op sy plek. Die fees is verby.
Ag, dit is mos die probleem met soveel vrolikheid, so ’n fees: Dit gaan verby. Die onderbreking wat ’n viering bring, is net tydelik. Later sal daar skrynende vrae oor Ussa gevra word. Mikal sal oplaas in die oë gekyk moet word. Die lewe wag.
’n Fees is nie die lewe nie. Dit is wel ’n louter seëning wat aangegryp moet word.
Dankie, Here, vir die feeste waarmee ook ek geseën word. Hóór my: Halleluja!
Barend Vos