Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Vir die dommes …

Lees Efesiërs 1:3-14.

In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees (v 5).

Ons was lankal deel van God se planne. Hy het ons en ons lewe en ons bestemming van die begin af (selfs voor die begin, as ons Paulus moet glo) in sy kop gehad. Daardie Vaderhart vol “ryke genade” (v 7) was van toe af reeds daar, daardie Vaderhande met die oorvloed geskenke wat Hy intussen na ons toe aangedra het. Op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het, sê Paulus.

Nee, ons verstaan nie alles nie. Nie eens naastenby nie. Selfs Paulus met al sy insig erken dat God se wil ’n geheimenis is. Maar dit staan vas dat dit Hy is wat dinge so besluit het. En, genade op genade, dit is Christus wat aan God se voorneme uitvoering gegee het.

Daardeur kan selfs ons ook iets daarvan verstaan. En iets van God is oorgenoeg vir my.

Daarom, almal: Prys die Here! Prys Hom wat sy Seun gegee het om vir ons verlossing te bewerk. Prys Hom wat sy Gees gegee het om ons tot sy eiendom te beseël en wat die waarborg is dat Hy al sy menigvuldige beloftes aan ons sal vervul.

Ja, prys Hom, want ons behoort aan Hom. Al verstaan ons tot vandag toe nog nie presies hoe dit so gekom het en hoe juis óns daarvoor in aanmerking kom nie.

Prys Hom, want sy liefde het die laaste woord. Hierdie liefde gaan ons stompsinnigheid te bowe en maak dit eenvoudig om te glo. Selfs vir dommes.

Ag, Here, ek draai vas in Paulus se lang sinne en ingewikkelde redenasies. Maar u liefde is vir my genoeg. Ek prys u Naam!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.