Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Kanse

Lees Markus 6:14-20.

Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy ’n opregte en godvresende man is (v 20).

Bly uit ander mense se private lewe! lui ’n eerste les in die hand­boek vir openbare sprekers en dus ook predikers.

Johannes die Doper het dit nie gelees nie. Hy het gesê wat hy wou, vreesloos ingeklim – die argetipiese vuur-en-swael-prediker – en só die hoëlui se woede ontketen. Hy het byvoorbeeld ’n mond vol kwytgeraak oor niemand minder nie as die koning. Dié het mos met sy skoonsuster getrou, en die Doper het skromeloos vir hom gesê wat op sy hart was.

Hieroor was die betrokke vrou woedend en op haar aandrang het die koning die Doper laat opsluit. Maar hierdie Herodias was steeds nie tevrede nie, sy wou finaal van hom ontslae raak. Haar man het egter gehuiwer.

Want die koning het geweet van sy kwaliteite. Buitendien, só lui die verhaal, het hy graag na Johannes die Doper geluister.

Dit is boeiende besonderhede dié. Reken net: Die Doper sit in die paleis se selle en die koning kom besoek hom, vra hom uit. Luister aandagtig na hom, wroeg oor wat hy moet aanhoor.

En Johannes? Ons kan aanvaar dat hy niks teruggehou het nie. Dat hy die waarheid waarvan hy oortuig was, vreesloos oorgedra het. Dat hy die kans gebruik het – selfs in die tronk, soos ook die ander apostels later, én Paulus – om te preek. Te vermaan, dalk selfs te bemoedig.

Reken net: Die koning se gevangene is ook die koning se per­soonlike kapelaan. Wát ’n storie!

Here, die lewe wat U ons gee, bied soveel moontlikhede. Leer my om al die kanse aan te gryp wat U my gee.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.