Lees 2 Samuel 7:1-14a.
“Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou ’n koningshuis gaan vestig” (v 11).
Dawid wil doen wat die Here se dankbare kinders graag doen: Hy wil op ’n tasbare manier dankie sê.
Wat is meer tasbaar as ’n huis? Vir Dawid is dit logies. Hy vind dit skreiend dat hy in luuksheid woon, “maar die ark van God staan in ’n tent” (v 2).
Ja, dit is wat hy sal doen: Hy sal vir die Here ’n huis bou. Boonop is die profeet Natan dit met hom eens. So sal dit dan wees …
Toe nié. Die Een vir wie die huis opgerig sou word, het die laaste sê. Altyd. Hy is onthuts, Hy stel nie in Dawid se voorstel belang nie. Deur al die jare wat die ark van God in tent en tabernakel gehuisves is, rondgekarwei is soos die Israeliete van plek tot plek versit het, het Hy nooit op ’n blyplek aangedring nie. Dit sal ook nie nou gebeur nie, in elk geval nie volgens Dawid se planne nie.
Die Here het ’n ander plan: Ek sal eerder vir jóú ’n huis bou, sê Hy. ’n Koningshuis, vir altyd. Uit daardie huis sal daar een voortkom met wie Ek sal praat oor ’n huis vir My.
So is Hy. Die inisiatief is altyd Syne. Alle goeie planne kom uit Hom voort. Hy weet hoe sy kinders se droomplanne dikwels in nagmerries ontaard. Daarom steek Hy ’n stokkie voor Dawid s’n.
Nee, dit is nie goed vir die koning se ego nie, dit bederf dalk sy droom vir ’n glansende nalatenskap. Maar dit is die beste so.
Ook hier weet die Here beter. Hy weet immers hoe lyk sý bouwerk.
By U is ek tuis, Here, en in u huis sal ek vir altyd bly.
Barend Vos