Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Vroeër, en nou

Lees Efesiërs 2:11-22.

Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus (v 13).

Elke mens se storie bevat minstens hierdie twee hoofstukke: die een gemerk “vroeër”, en ’n ander met die opskrif “nou”. Verlede en hede.

Dikwels is die strekking van ons lewensverhaal dat dit vroeër beter gegaan het (die goeie ou dae), maar deesdae verloop dinge maar so-so (en gewoonlik is dit húlle skuld). Die nostalgiebril is immer rosig getint.

Soms daal die besef egter dat die ou dae toe nie so goed was nie en dat die hede straks heelwat beter is. Dat dit trouens ’n genade is dat jy hoegenaamd jou verlede oorleef het. Ja, prys die Here vir vandag!

Paulus beskryf die Efesegemeente se verhouding met die Here op dié manier. Hy herinner hulle aan hoe dit aanvanklik met hulle gesteld was. Onder meer was hulle “sonder Christus”, “ver van God af ” en “sonder hoop” (v 12).

Maar Goddank vir Christus! Hy het sy liggaam gegee om die skeiding af te breek, om versoening te bring. Hy het die goeie boodskap van vrede gebring. Die slegte ou dae is verby, die beste het gekom.

In die laaste klompie verse van hierdie hoofstuk gebruik Paulus ’n mooi beeld – dié van ’n huisgesin waarvan die Efesiërs nou deel is. Hulle is nou ’n gebou met ’n spesiale fondament en ’n besonderse hoeksteen. Hiermee open hy ’n nuwe dimensie: Nou het julle ’n toekoms, sê hy, ’n stewige een. En veilig, want julle is geborge in God en in mekaar.

Sien, die heel beste kom nog!

Steeds bou U, Here. U werk van altyd af aan ons. En nou nog, dag na dag.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.