Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Net een kyk

Lees Markus 6:30-34.

Hulle was soos skape wat nie ’n wagter het nie (v 34).

Dit was soos ’n sirkus, veral daar aan die begin: Al wat leef en beef – siekes, behoeftiges, veral dalk nuuskieriges – het agter Jesus en sy dissipels aan gegaan. Markus vertel daar was so ’n gedurige gedrang dat Jesus en sy dissipels skaars kans gehad het om te eet.

Einde ten laaste ontsnap hulle hierdie keer met ’n bootjie. Hulle sou op ’n ander plek weer aan wal gaan, bloot om ’n rukkie daar alleen te wees.

Toe nié. Die nuus het gou uitgelek, en voor hulle hulle kom kry, het die mense uit die dorpe reeds na die vasmeerplek toe gestroom. Toe Jesus en sy dissipels uit die skuit klim, was daar reeds weer ’n groot klomp bymekaar.

Toe Jesus die eiegeregtige spulletjie sien, hulle met die totale gebrek aan begrip vir sy situasie, die opperste selfsug, het Hy Hom siedend vererg. En Hy het teruggeklim in die skuitjie.

Of hoe?

Ék sou, en almal wat ek ken, sou …

Nie Jesus nie. Nie Hy nie. Toe Jesus die mense sien, het Hy hulle innig jammer gekry, vertel Markus. Hulpeloos, herderloos het hulle daar rondgestaan. Verleë. Afhanklik. Jesus het dit raakgesien en dit het Hom geroer. Toe het Hy begin om hulle te leer, om hul hongerige siele te voed met die brood van die lewe. Om hulle te laaf met die water wat hulle nooit weer sou laat dors kry nie.

Van altyd af kyk Jesus anders na mense. Dieper, deernisvoller. Hy sien die honger, die dors. Die desperate behoefte aan troos, aan leiding. En dan doen Hy iets daaraan. Hy doen alles, en nog meer.

U gee my net een kyk en dan weet U alles. Dankie, dankie, Here!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.