Boodskap vir Vandag

Search

Net ’n greintjie

Lees Markus 6:53-56.

Die mense (het) … Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak (v 56).

Dit is nou, twee duisend jaar later, steeds ’n bekende prentjie: dié van siekes op draagbare by die verskillende plekke waar Jesus was of waarheen Hy op pad was. Hulpelose mense wat deur weldoeners aangedra is, sommige van baie ver, sodat hulle Jesus kon sien en aan Hom kon vat.

Of, beter, sodat Jesus hulle kon sien en teenaan hulle kon gaan staan sodat hulle aan Hom raak. Dalk net ’n stukkie van sy klere raakvat.

Dit is in skerp teenstelling met die luidrugtige, glansryke by­eenkomste wat in latere jare aangebied sou word ten einde Jesus­genesings te bewerkstellig. Hiér word probeer om sy aandag met die grootste moontlike skouspel te verkry – raserige musiek, skreeu­ende gebede, opruiende prediking.

Die desibel as die dertiende dissipel …

Hoe vreemd. Wanneer sou dié verskuiwing plaasgevind het? Wat het dan gebeur dat blote aanraking verruil is vir verbale en musikale vuurwerke?

Is dit dalk omdat Jesus nie meer liggaamlik teenwoordig is nie? Soek ons God in ’n gedruis? Wil die lawaaimakers Jesus met alle geweld tot by hulle bring? Wil hulle Hom teenwoordig máák deur hulleself en hul toehoorders te kasty?

Weet hulle dan nie dat die Here nie op Hom laat skreeu nie? Dat Hy self nie raas nie? Dat Hy reeds in Elia se tyd aangehoor is as ’n fluistering in die windstilte? Dat net ’n greintjie van God genoeg is vir mense soos ons?

Raak aan my, Here! Vat my aan die hand, tel my op. Moet my net nooit los nie.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.