Lees Psalm 23.
U laat my by ’n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk (v 5).
Hoeveel maal kan ’n mens hierdie geliefde psalm lees voordat jy daarvoor moeg word? Selfs sewentig maal sewe keer?
Ja, ons het dit al vroeër vanjaar gelees. Nee, ons is nog nie daarvoor moeg nie en sal waarskynlik nooit word nie. Daarvoor is dié stukkie hartsbesit te kosbaar.
Dit sal ons dalk wel loon om soms ’n ander bril op te sit wanneer ons dit nóg ’n keer lees, al is dit bloot om te voorkom dat ons die skerp kante – ook in hierdie sagte lied, ja – stomp vyl. Kom ons kyk …
Wie is die teëstanders wat toekyk, byvoorbeeld? Waar kom hulle vandaan en wat soek hulle in dié mooi prentjie? Is hulle dalk die rede waarom die digter dankbaar is vir die groenigheid, die waters waar daar vrede is, die nuwe krag?
Is dit dalk hulle wat hom so van koers af het dat die Herder hom weer op die regte paaie moet kry? O, maar dan is dit mos húlle wat in die donker dieptes skuil.
Dán begryp ons waarom hierdie ellendelinge by die feesmaal uitgesluit word, waarom hulle bloot kan toekyk. Hulle het nie ’n plek aan daardie tafel nie. Hulle staan buite in die koue, hulle kyk deur die venster na die oorvloed, die geselligheid, die warmte. Wanneer sal hulle tog padgee!
Of begeer hulle dalk om in te kom, om ook deel hiervan te word? Ag, en wie sal dan die deur vir hulle oopmaak, hulle innooi, hulle laat tuis voel? Hy wat op sy tande byt, tot by tien tel, wat sewentig maal sewe keer vergewe het?
Ek is so tuis by U! Help my met hulle wat so kýk. Wat moet ek doen, Here?
Barend Vos