Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Só lyk mag

Lees 2 Samuel 11:1-15.

Sy was ’n baie mooi vrou … “die vrou van Urija die Hettiet” (v 2-3).

“In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik optrek om oorlog te maak …” (v 1) het een koning tuis gebly. Sy eie dingetjies gedoen, sy middagslapie geniet, op die paleis se dak gaan rondstap, die wêreld betrag – en ’n vrou gesien.

Op hierdie kalm, sobere, amper landelike manier begin die skandalige verhaal van Dawid se dwalende oë en verraderlike hart. En die onskuldige bloed aan sy hande.

Dit is ’n afskuwelike storie, so reg uit ’n goedkoop fliek: hoe die koning sy mag gebruik het om by ’n ander man se vrou te slaap, hoe hy haar swanger maak. Hoe hy die man, een van sy uitsoeksoldate, sover probeer kry om by sy eie vrou te gaan slaap ten einde die bron van die swangerskap te verdoesel. Hoe hy alles in die werk stel om sy spore dood te vee – die man ’n geskenk aanbied, hom selfs dronk maak.

Maar die soldaat is lojaler aan die koning as wat vir die koning gesond is. Daar bly net een uitweg oor: Die koning gee opdrag dat Urija op die voorpunt van die geveg geplaas word “sodat hy in die slag kan bly en sneuwel” (v 15).

Só lyk die hart van die man wat later beskryf sou word as die man na God se hart. Só lyk die keuses van die groot man wat klein-klein reeds deur die Here uitverkies is. Só lyk mag …

Daar is eintlik niks meer oor hierdie verhaal te sê nie. Hier is geen goeie gevolg, geen positiewe boodskap nie. Dit is eintlik ontipies van die Bybel en die Bybelse helde. En dalk daarom, dáár­om, so skreiend relevant vir ons.

Here, U weet mos ek vermy hierdie verhaal. Dit slaan my reg in die gesig.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.