Lees Psalm 14.
Almal het afgedwaal, die laaste een het ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie één nie (v 3).
Nee, dié psalm is nie ’n belangrike uitspraak vol verdoemende dogmatiese oordeel nie. Hier is geen hovaardigheid of beterweterigheid nie. Dit is ’n doodgewone waarneming deur ’n doodgewone mens. Hy sê bloot wat hy weet, wat hy alles rondom hom sien en hoor. En dit maak hom bang.
Dwaasheid is genoeg om enigeen bang te maak. Dit beskik oor vernietigende krag. Dit vra nie vrae nie, want dit het geen antwoorde nodig nie. Dwaasheid is sy eie wet. En die een groot probleem daarmee is die ellendige feit dat dit vryelik bekombaar is, volop, tiekie-’n-bos!
Daarom, sê die psalmdigter, gaan die Here tevergeefs op soek na ’n verstandige mens. Waar Hy ook al kyk, kry Hy net eiesinnige, ontaarde, afgedwaalde mense. Mense wat ander verdruk en verontreg, mense wat van God-en-sy-gebod niks wil weet nie.
Weet hulle nie wat die uiteinde van sulke boosheid is nie? Verstaan hulle dan nie die Here se voorkeur vir die hulpeloses nie?
Seker nie. Dwaasheid weet alles van almal, maar van God en sy goedheid … niks. Dwaasheid roem op sy agendas en noukeurige planne, maar van God se wil het hy geen idee nie. Daarom dra dwaasheid die kiem van vernietiging in sy eie hart.
Dwaasheid se enigste hoop is ’n nuwe hart, een wat sagter is, een wat kan meegee onder die druk van liefde. ’n Groter hart, sodat daar plek is vir die enigste Een wat chroniese, halsstarrige dwaasheid van binne af kan genees.
Ek weet eerstehands hoe lyk dwaasheid, Here. En ek weet, goddank, ook van genesing en van vergifnis.
Barend Vos