Boodskap vir Vandag

Search

Liefde, onbeperk

Lees Efesiërs 3:14-21.

Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe (v 20-21).

Paulus se gebed vir die gemeente in Efese bring lof aan God se onoortreflike goedheid. Die hele gebed is deurspek met verwon­dering oor hoe groot en goed Hy werklik is – só groot en só goed dat sy aanbidders geen idee daaroor kan vorm nie. Dit kom voort uit ’n “liefde wat ons verstand te bowe gaan” (v 19).

En, bid Paulus hartstogtelik, mag julle tog hierdie onpeilbare liefde ken. Mag julle in staat wees om te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep hierdie liefde strek. Julle, en al die gelowiges.

Kan dit gebeur? Daar is dan soveel liefdeloosheid, soveel ver­skeurdheid onder gelowiges. Hulle – ons – vertrou mekaar dan beswaarlik. Hulle – ons – het mekaar dan gereeld aan die keel beet oor byna alles, onder meer oor die liefde van Christus. Daar word dan juis gereeld geredekawel oor presies hoe wyd en ver en hoog en diep Christus liefhet.

Sommige reken dat daar ’n grens moet wees, iewers móét die streep getrek word. En dan, oormoedig genoeg, besluit húlle waar dit is. Dan bepaal hulle die grens, trek hulle die streep met ’n dik, swart, amptelike pen.

Ag, hoe sal ons mekaar tog vind? Waar sal ons mekaar ontmoet, indien ooit?

Paulus sê: Daar is ’n God wat oneindig meer kan regkry as ons. Dit is by Hom wat ons mekaar moet kry, op geen ander plek nie. Hy sal ons leer, ons reghelp. En dalk genoeg begin vertrou om ons weer te stuur om te gaan liefhê.

Ek was nog altyd ’n voorwerp van u onbegrensde liefde. Leer my ook só liefhê, Here!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.