Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Eens by die meer …

Lees Johannes 6:1-15.

“Hier is ’n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” … Die mans alleen was omtrent vyf duisend (v 9-10).

Wat kan ’n mens nóg oor dié bekende en geliefde verhaal sê – be­halwe dalk om weer daarop te wys dat die syfers so buitengewoon was? Vyf broodjies, twee vissies. Vyf duisend mans. Twaalf mand­jies vol oorskietbrood.

By die herlees hiervan: Mense wat hulle vol geëet het, kan nogal wilde dinge sê. Groot woorde gebruik. Daardie versadigde skare by die See van Galilea wou sommer vir Jesus koning maak, vertel Johannes. Boonop was hulle daarvan oortuig dat Hy ’n profeet was.

Hoe ook al. Feit bly dat dit ’n besonder indrukwekkende wonder­werk was. Ja, álle wonderwerke is uiteraard buitengewoon, maar die getalle wat hier ter sprake is en die teenstelling wat dit weerspieël en die impak wat dit beklemtoon, slaan die asem weg.

Destydse en hedendaagse skeptici sluk maar swaar hieraan – en dit is sekerlik hul goeie reg. Maar gaan vra gerus een mens in daardie skare wat so gevoed is, hoe dit was. Vra hom of haar: Hoe het dit jou laat voel? Luister dan goed na die antwoord.

Of, nog makliker, gaan vra iemand in die skares wat in die millennia daarna by Jesus sou kom sit en soebat dat Hy die lewens­brood vir hulle moet breek. Vra húlle hoe dit is as Hy hulle voed, hoe dit hulle laat voel. Vra hulle oor die impak van dié wonderlike werk aan hul siel en hul liggaam.

En moet tog nie skrik as hulle sterk woorde soos “profeet” en “koning” in hul relaas gebruik nie.

U breek steeds die lewensbrood vir my ook, Heer. U voed my elke dag.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.