Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Genadebrood

Lees 2 Konings 4:42-44.

“Hoe kan ek die bietjie kos aan ’n honderd man voorsit?” (v 43).

Hoe kan ek baie mense kos gee met min?

Die Here sal voorsien, sê die profeet. Trouens, daar sal nog oorbly ook.

Dit is hoe dié ou kosgee-storie verloop. Amper soos die brood-en-vis-verhaal in die Nuwe Testament, nie waar nie? En, sal baie dalk weet, soos ook menige verhaal waar daar moedeloos uitge­roep word: Ag, Here, help! Die broodjie is te klein en die sous is reeds so dun en die monde gans te veel.

In al dié stories, die oues én die nuwes, is daar ooreenkomste: Daar is altyd iemand wat sy of haar hand oopmaak – die man uit Baäl-Salisa wat die garsbrode gebring het; die seuntjie met die skamele broodjies en vissies; die sopskeppers en broodsmeerders deur die eeue.

Dan is daar iemand wat hande in die lug gooi en iets sal sê soos: Kyk net hoeveel mense! Hoe op aarde gaan ons hulle voed!

Maar een sal opstaan en sê: God sal voorsien. En kyk maar, daar sal oorbly ook.

Ja, welmenende mense speel ’n groot rol in sulke stories. Dit is nou die gewers en uitdelers met die sagte oë wat kan onthou waar hul oorvloed vandaan kom. Uiteraard speel God, die Gewer van hul goeie gawes, die hoofrol. Altyd, áltyd.

Dit is waarom Jesus sy dissipels geleer het om vir elke dag se brood te vra. Waarom die Evangelieskrywers dit nadruklik noem dat Hy sy Vader aan tafel gedank het.

Kos is ’n geskenk, word ons van altyd af wysgemaak. Dit is nooit ’n vanselfsprekendheid nie. Dit is altyd onverdiende guns. Volledig genadebrood.

Seën, Vader, wat ons eet. Laat ons nimmer U vergeet.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.