Lees Eksodus 16:2-4.
“As ons maar liewer in Egipte omgekom het … by die vleispotte” (v 3).
Kla sou hulle kla, die Israeliete op trek deur die woestyn. Die murmurerende Israeliete, soos ons kleintyd geleer is.
Dié nimmereindigende gekla was altyd die voorspel tot ’n ingryping deur die Here. Iets wat hulle ’n tyd lank tevrede sou hou. Hierdie keer was dit die manna en die kwartels.
Maar die vreemdste van hierdie keer se luidrugtige ontevredenheid was die wens om terug te gaan Egipte toe. Dit was wel ’n plek van slawerny, maar dit was ook die plek van die vleispotte. Daar het hulle hulle byna doodgewerk en is hulle dikwels amper doodgeslaan, maar daar was glo ’n oorvloed kos, potte vol.
Ons sal eerder doodgaan van ellende as van honger, het hulle gesê. Jy kan nie vryheid eet nie. Vooruitsigte op ’n beter toekoms maak nie die maag vol nie. ’n Mens kan nie op brood-vir-die-lewe oorleef nie …
Toe gryp die Here in en belowe kos – maar net genoeg vir elke dag. Môre sal vir môre se kos sorg. Só, sê die Here, só sal Ek hulle toets. Sal Ek sien of hulle onthou waar alle goeie gawes vandaan kom. Hulle het dan so gou vergeet hoe swaar hulle in Egipte gekry het. Hulle praat glad van die goeie ou dae daar.
Hierdie ou storie herhaal hom elke dag in moderne mense se lewe. Sulke mense, mense soos ons, aanvaar sonder meer dat die sogenaamde goeie ou dae se sogenaamde vleispotte ons toegekom het. Dat dit die gevolg van ons eie verdienste was.
Kla sal ons deesdae kla, die witbrood onder elke arm. Sien, egosentrisme – ag, sommer plein vraatsigheid – laat ons so maklik vergeet!
Here, Bakker van my lewensbrood, U voed my, U vul my.
Barend Vos