Lees 2 Samuel 11:22-27.
Toe die routyd oor was, het Dawid haar na sy huis toe laat haal. Sy het sy vrou geword (v 27).
Hy het darem gewag totdat dit sosiaal en godsdienstig aanvaarbaar was om haar na hom toe te laat kom. Daardie koning wat in oorlogstyd by die huis gebly en op ’n ander man se vrou verlief geraak het.
Hy het gesorg dat dié man in die oorlog sterf, en toe hy bevestiging daarvan ontvang, het hy die tweede fase van sy plan in werking gestel, alles amptelik gemaak: Daar was nou ’n nuwe vrou in die paleis. Spoedig was daar ook ’n nuwe seun.
Dit is die hooftrekke van dié verhaal, soos wat die skrywer dit aan ons meedeel. En soos dit maar met sulke stories is, is daar ook die grillerige besonderhede. Soms word dit diskreet verswyg, soms nie. Maar altyd verklap dit iets van die betrokkenes. In hierdie geval hoor ons Dawid se gerusstelling aan sy bevelvoerder: Moet jou tog nie ontstel nie, sulke dinge gebeur maar …
Regtig? Is dit eerlikwaar so dat konings en maghebbers skouerophalend oor ander se ellende kan sê: Dit is nou maar een van daardie dinge …?
Hedendaagse lesers kan ook nie anders nie as om op te let hoe vroue destyds uitgelewer was aan die buie en luste van magsdronk mans.
Die skrywer maak seker dat sy lesers weet: Die Here sien hierdie dinge raak. Die skrywer wys ons die Almagtige se trane oor magtiges se vergrype en oor magteloses wat die spit moet afbyt.
Die skrywer en sy lesers weet lankal dat die Here se hartseer sy hande in beweging bring.
Ag, Here, hoeveel keer het U nie al oor my en my vergrype gehuil nie! Wat gaan U met my doen?
Barend Vos