Lees 2 Samuel 12:1-13a.
Dawid het hom bloedig vererg oor die man en vir Natan gesê: “So seker as die Here leef …” (v 5-6).
Hoe vroom kan veroordeling nie wees nie, hoe hoogheilig verontwaardiging. En hoe bitterlik stiksienig die werklike skuldige …
Ja, daar is waarskynlik geeneen so blind soos hy wat nie deur homself kan sien nie. Dit is daarom geen verrassing nie dat iemand op ’n keer gesê het die vernaamste kennis is selfkennis. Dit is verbysterend dat so min mense oor dié vermoë beskik. Dat hulle maatstawwe aanlê en dit nougeset toepas – op almal in hul omgewing behalwe hulleself. Dat ’n man-na-God-se-hart nie agterkom wanneer hy daardie heilige hart breek nie.
Vir sulke mense dien beeldspraak geen doel nie, dit is gans te subtiel. ’n Profeet moet maar pront wees, die waarheid onbewoë ontbloot: “Jy is die man!” (v 7). En dan hoop die oortreder hoor die rou hartseer in die Here se boodskap aan hom: Ek het jou koning gemaak; Ek het jou beskerm; Ek het jou alles gegee; Ek sou jou enigiets gee. Waarom het jy My geminag?
Hoekom duur dit so lank voordat sulke mense tot inkeer kom, tot selfinsig, tot berou? Waarom moet iemand anders hulle leer om God se stem te hoor? Hulle wat veronderstel is om dit goed te ken?
Moet hulle eers gedreig word, sodat hulle uit vrees hul sonde erken? Of leef hulle werklik in die waan dat alles reg is solank hulle net nie betrap word nie?
Ag, hoekom klink dit alles so bekend? Waarom kom al dié gedagtes so maklik-maklik by ons op? Waarom klink sulke mense se stories so baie soos myne?
Ja, Here, hierdie Dawid is maar ek. Soos hy, skaam ek my. Ek is so jammer, Here.
Barend Vos