Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Ook ék, Here

Lees Psalm 51:1-12.

Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus (v 5).

Wanneer ons nou weer uit Psalm 51 lees, doen ons dit met ’n ander oog. Toe ons vroeër hierna gekyk het, was dit vir ons belangrik om oor ’n rein hart te spekuleer en te filosofeer.

Maar nou het daardie veelbegeerde “rein hart” (v 12) ’n ander konteks, klop dit as ’t ware in ’n ander liggaam. ’n Verraderlike lyf.

Want moenie ’n fout maak nie: Dawid se begeerte na ’n nuwe begin kom voort uit nuwe selfkennis. Hy weet nou presies hoe sy lyf maak wanneer hy voor versoekings te staan kom. Hoe sy hart klop as soete verleiding sy pad kruis. En hy voel steeds die vuil aan hom kleef.

Dit is bitter om jouself só te leer ken. Jy het waarskynlik nooit gedink dat jy – jý, van alle mense – so sou reageer, so sou swig nie. Sulke dinge gebeur net met ander mense. Swakker mense. Slegte mense.

Die bedrukkende wete dat jy toe nie anders as hulle is nie, is sekerlik een van die lewe se grootste gelykmakers. Uiteindelik word jy gedwing om te erken – al is dit saggies, en net aan jouself – dat jy toe nie so spesiaal is nie. Dat ook jy die Here se vertroue onwaardig is en sy goedheid misbruik het. Dat jy nie langer durf neersien op hulle wat soms bely dat hulle ’n tweede kans gekry het nie. Jy bevind jou nou, pens en pootjies, van kop tot tone, ook by hulle.

Daarom sal jy voortaan genadiger wees in jou oordeel oor húlle en met sagter oë kyk na diegene wat dit waag om hul skuld te bely. Nie waar nie?

Ag, Here, leer my hoe om nee te sê vir myself en my vernietigende begeertes.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.