Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Nogmaals brood

Lees Johannes 6:24-35.

“Julle soek My … omdat julle van die brood geëet en versadig geword het” (v 26).

Dit is nou eenmaal so, moet ons maar weer erken: Die sug en soeke na kos sal die mens se lewe kenmerk, elke dag. En, nee, dit gaan hier nie oor desperate mense wat daagliks na kos op soek is nie.

Hier is suiwer lekkerbekkigheid ter sprake. En op ’n dag kom daar ’n prediker wat buitengewone dinge sê en wonderlike dinge doen en tussendeur kos aan sy honger gehoor uitdeel. Hoekom sal hulle Hom dan nie volg nie, hul bure en vriende vertel en almal saam agter Hom aan tou nie? Kyk, daar kom sy helpers weer met die kos! Hulle kom deel dit aan almal uit en hulle eet en eet. En daar bly nóg oor!

Jesus sien deur die kossoekers, dié wat Hom uitsluitlik volg om­dat daar iets belowends op die spyskaart sal wees. Dit is nie eens vanweë die wonderwerke nie, sê Hy. Dit is oor die kos wat Ek gee.

Sien julle dan nie die andersoortige voedsel wat Ek ook vir julle gebring het nie? Proe julle nie die brood van die lewe nie? Dit is sy hartseer vraag.

Hulle was dus van altyd af daar – Jesus se volgelinge met die kortsigtige agenda. Hulle weet dit dalk nie eens nie, maar hulle heimlike wat-kan-ék-hieruit-kry-houding maak hulle blind vir wat Hy eintlik bedoel het hulle moet kry. Hulle stop hul mond en maag vol, en ly skade aan hul menswees. Hulle weet nie wat hulle doen nie.

En Hy, die goeie Gewer? Hy sal ons bly voer, totdat ons ons ele­mentêre eensydigheid snap. Totdat ons uiteindelik ook die waar­heid sluk.

Ek dank U, Here, vir my daaglikse brood. U voed my ook met die brood uit die hemel. Dit laat my lewe.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.