Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Tel tog reg!

Lees Efesiërs 4:1-6.

Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het (v 1).

Dít is altyd die eg Christelike dilemma, nie waar nie? En die on­derwerp van menige preek: Leef soos jy praat. Oftewel: “Practise what you preach.”

Dit is niks minder nie as ’n eindelose stryd, ’n rede tot selfkas­tyding: Ek probeer só hard, maar … Of, om Paulus te parafraseer: Ek wil so graag die goeie doen, maar as ek my kom kry, is ek weer kniediep in die moeilikheid.

Hiervandaan loop daar ’n kortpaadjie na selfbejammering (ai, arme ek) en dié se kleinboetie, selfverontskuldiging (dit is nie heeltemal my skuld nie; dit was omstandighede buite my beheer).

Eintlik, sê Paulus, is dit glad nie ingewikkeld nie. Jy moet bloot kan tel. Tot by een. ’n Gelowige moet weet: “Daar is net één liggaam en net één Gees … net één hoop … net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader …” (v 4-5). Dit is ’n gawe van die Gees, dié eenheid.

Maar hiér lê die probleem. Ons, die gelowiges, is kampioene as dit by twee-tel kom. Ek … en jy. My standpunt … en jou simpel mening. My waarheid … en jou dom idee. My kerk … en jou sekte. O, en daardie allergunsteling: Óns … en júlle. Daarom is vyandskap sinoniem met tweedrag.

So vlieg die beskeidenheid waarvan Paulus praat by die venster uit, én die vriendelikheid en geduld en die liefdevolle verdraag­saamheid. En só, stry-stry, verloor gelowiges hul geloofwaardig­heid. Maak hul selfkoesterende kerkspeletjies ’n tragiese grap van hierdie gawe van die Gees.

Here, U hoor hoe maklik ek slim, selfs dapper dinge sê. Leer my ook só lewe!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.