Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Onthou tog!

Lees Psalm 78:23-29

Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het (v 29).

Dit sou ’n deurlopende tema by verskeie Bybelskrywers bly: Moe­nie vergeet wat die Here destyds vir julle gedoen het nie. Onthou sy weldade in die verlede. Onthou hoe julle gevra het, onthou hoe Hy voorsien het.

Hierdie herinnerings moes hulle moed gee. Wanneer hulle aan God se goedheid en sy plan vir hul lewe begin twyfel, moes die geskiedenis hulle help om steeds aan daardie goeie plan te glo. Ouers en ander leermeesters het die dure plig gehad om hul kinders hiermee te help. Hulle moes die ou stories oor en oor vertel, sodat die volgende geslag kon leer dat hulle nie per ongeluk of toevallig tot daar gekom het nie.

Dit is presies wat die psalmdigter hier doen: In kleur en geur skilder sy woorde die ou woestynstorie van die manna en die kwar­tels. As gesoute storieverteller gebruik hy helder beelde om aan sy hoorders te verduidelik dat die God van die hemel gegee het, dat Hy oorvloedig gegee het. God is die Voorsiener, onthou!

Deur geslagte heen sou sulke stories die twyfelaars troos. Die boodskap is eenvoudig en duidelik: Die God-van-gister is ook die God-van-vandag-en-môre. Hy het sy hand destyds uitgesteek en dit sedertdien nog nie teruggetrek nie. Sy genade was nog altyd genoeg, en só sal dit tot in ewigheid wees.

Daarom is vergeetagtigheid, en dalk veral ’n selektiewe ont­hou, die gelowige se grootste dilemma. Jy moet weet: Geloof funk­sioneer beswaarlik sonder ’n geheue. En: Jy moet kan onthou om te kan hoop.

My geheue word deur my vrese verwoes, Here. Die twyfel vreet my hoop op. Help my onthou hoe goed U nog altyd vir my was!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.