Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Ouerliefde

Lees 2 Samuel 18:31-33.

“Absalom, ag as ek maar in jou plek kon gesterwe het” (v 33).

Dit is eintlik onvermydelik, en almal weet dit: ’n Ongerehabili­teerde probleemkind se uiteinde is die tronk of ’n ongemerkte graf. Ten minste baie trane, wanhoop, volop verydeling. En ’n harts­togtelike uitroep, of dalk bloot ’n heimlike versugting: Dit kon, dit moes, so anders gewees het …

Dit kón, ja, dit móés, ja. Maar dit was nie. En, sê die mense, nou is dit te laat vir trane.

Wie kan ouers hul trane misgun? Watter hart word nie geroer deur Dawid se hartverskeurende krete nie? Ag, hy het so gehoop, ten spyte van alles. “Gaan dit goed met my kind …?” vra hy die boodskapper (v 32).

Maar eintlik het hy reeds geweet.

Nee, ouerskap is nie maklik nie. Dikwels breek dit jou hart, skeur dit jou siel. By vele geleenthede wens jy dat jý die houe kan vat. Soms bied jy aan: Slaan mý maar, net nie my kind nie!

Daarom is dit juis diegene wat die voorreg en die pyn van ouer­skap ken, wat dié deurslaggewende waarheid van hul geloof die beste hoor: dié van ’n Vader wat sy Seun offer. Dit is hulle wat hierdie verbysterende liefdesverklaring die duidelikste hoor: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het” (Joh 3:16).

Maar goed hoor, is nog nie goed begryp nie, want hoe verstaan ’n ouerhart hiérdie offer?

Nee, daar is nie ’n manier nie. Jy kan dit bloot glo, of nie. Aan­vaar, of nie. Omhels, of nie.

My Vader, ek hou vas aan u liefde vir my, u kind. Ek weet dit het U bitter duur gekos. Ek sal dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.