Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Omdat

Lees Efesiërs 5:1-2.

Omdat julle kinders van God is … (v 1).

Dit maak ’n lewensbelangrike verskil, hierdie motivering van Pau­lus. Eintlik is dit net daardie een allesverklarende woordjie in dié Afrikaanse vertaling: “omdat”.

Lewensbelangrik, ja, vir elke gelowige. Want dit kon “sodat” gewees het. En dan was dit doodsake.

Nee, dit is nie ’n taalkwessie nie. En daar is niks lukraaks aan dié vertaling nie. Dit omvat ’n teologiese kernwaarheid, daardie “omdat”. Dit verwoord ’n hemelse heerlikheid. Dit sê: Ons is God se kinders. Hy het ons lief. Daarom leef ons soos sy kinders. Ons doen dinge wat by God se kinders pas en ons laat staan wat nie by sy kinders hoort nie.

In hierdie “omdat” klop die evangelie se hart. Gelowiges wat dit hoor en verstaan, weet dit is ’n belangrike aanduiding dat hul geloof lewe. Dat hul hoop ongeskonde is en dat hul liefde ’n won­derlike, uitdagende avontuur is.

Dit kon anders gewees het. Saulus van Tarsis kon die evangelie anders gehoor en anders oorgedra het. Hy kon iets gesê het soos: Julle moet soos God se kinders leef, sodat Hy julle kan liefhê.

As dit die waarheid was, was ons doodsvonnis by voorbaat gevel. Dan was Jesus se dood niks meer nie as ’n ongelukkige misverstand, ’n erg oorskatte toevalligheid. En sy opstanding ’n infame leuen.

Maar nou ja, as Paulus dit so verstaan en so geskryf het, sou sy geskrifte nooit die Bybel gehaal het nie; hulle sou lankal tot stof vergaan het. Goddank, die Gees doen nie halwe werk nie. Hy het Paulus van die “omdat” oortuig en ons van die “sodat” gered. Nou kan ons soos uitgelate kinders lewe en liefhê.

Halleluja! U het ons u kinders gemaak. Omdat U ons liefhet, sal ons lewe.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.