Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Plaaslik

Lees Johannes 6:35, 41-51.

Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma” (v 42).

Hoe kan hy sê hy kom uit die hemel? Waar kom hy daaraan dat hy die brood is wat lewe gee? Ons ken dan sy ouers, ons weet waar hy vandaan kom.

Hulle weet nie, hulle weet niks. As hulle Hom geken het, sou hulle gesê het: Gee vir ons van daardie brood! Gee ons nóg, en nóg, sodat ons kan lewe. Sodat ons oë oopgaan en ons verder kan sien as wat ons vooroordele en agterlikheid, ons uiters beperkte insig en gebrekkige uitsig ons toelaat om te sien.

Want diegene wat nie verder as die voor die hand liggende kan sien nie, sal nooit die Gesant van God, die Seun uit die hemel, raaksien nie. Hulle sal Jesus van Nasaret sien, en dan vinnig weg­kyk. Want wat is daar nou eintlik aan hóm te sien? Hy is mos Josef en Maria se kind? Hoe kan een van hul seuns hom so aanmatig?

Hulle sal hulle nie laat leer nie. Hulle kan nie reggehelp word nie. Hulle weet reeds alles. Daar is nie kwessies en vraagstukke en onsekerhede en sake wat minder as duidelik is nie. Alles is klinkklaar. Maklik verstaanbaar. Uitgesorteer.

Steur jou dus nie aan die groot woorde soos “ewige lewe” (v 47) wat hy gebruik nie. Luister maar met die een oor, as jy hoege­naamd wil, na die verwarrende uiteensetting van sy liggaam wat uitgedeelde brood is. Ignoreer tog die lasterlike lawwigheid dat hy God “Vader” (v 44-46) noem. Hy is net Josef en Maria se seun, ’n outjie uit Nasaret. Een van die plaaslike seuns, hier tussen ons ander plaaslikes.

Here, U het my oë oopgemaak. Hoe, weet ek nie, maar ek glo U kom van God af.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.