Lees 1 Konings 19:4-8.
“Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word” (v 7).
In daardie stadium was Elia se pad reeds lank, en swaar. Hy het toe pas van die triomf oor die Baälpriesters op Karmelberg teruggekeer en hom terstond in die woedende koningin Isebel vasgeloop.
Van haar moes hy wegkom, en vinnig ook. Al het dit beteken dat hy sy slaaf halfpad moes los. Al was dit nog ’n dagreis die woestyn in. Die onherbergsaamheid in, met ’n armsalige besembos as laaste skuiling.
Daar het hy gewens hy gaan dood. Gesug: Die lewe met sy hoë hoogtes en ellendige dieptes het nou te veel vir my geword, Here! Hiervoor het ek nie meer moed nie. Ek gaan nou maar lê en hoop om aan die slaap te raak. En wens om nie weer wakker te word nie. U kan my maar kom vat, Here …
Maar die profeet misgis hom met sy Here. Wanneer Hý vat, vat Hy raak. Sit Hy sy hand sekuur op die seerplek. Gee Hy rus aan die vermoeides en kos aan die hongeriges.
So kon Elia goed slaap en behoorlik eet. Die swaar pad tot by die besembos is in perspektief gebring. En die pad tot by die nuwe berg wat nou vir hom voorgelê het, was toe nie meer so lank nie.
Ja, die pad tussen Karmel en Horeb is ’n woestynpad. Om van een hoogtepunt tot by ’n volgende te kom, moet jy dikwels deur donker dieptes sukkel, ’n roete vol duwweltjies aandurf.
Goddank vir Hom wat vir jou skuiling onder die naaste bos maak, Hy wat jou laat eet. Hy weet die reis is nog lank nie voltooi nie. Daar wag nóg ’n kruin op sy kind.
U ken my moegheid, vrese, moedeloosheid. Wees vir my ’n skuiling, Here!
Barend Vos