Lees 1 Konings 2:10-12; 3:3-14.
Dawid is oorlede, en hy is begrawe (2:10).
So kom ’n roemryke tyd tot ’n einde. Die skaapwagtertjie met die rooi gesig, die geliefde koning, het gesterf. Die sensitiewe digter se “lengte van dae” (Ps 23:6; 93:5) is voltooi. Hy het veertig jaar lank regeer, feitlik ’n leeftyd, en is in die stad begrawe wat na hom genoem is.
Sy naam sou deur die eeue heen met ontsag genoem word, tot vandag toe.
Maar nou het daar teen wil en dank ’n nuwe tydperk voorgelê. Vir Salomo, die opvolgerseun, was daar ’n enorme paar skoene om vol te staan. Die geskiedenisboeke vertel dat hy spoedig ’n stewige greep op die koningskap gekry het. Dat hy ’n uitstekende staatsman was, een wat sy vriende naby aan hom gehou het en sy vyande nóg nader. Dat hy ’n oog vir ’n gaping gehad het, sakegeleenthede aangegryp en diplomatieke finesse geopenbaar het. Sy naam sou onlosmaaklik aan die fabelagtige koningin van Skeba verbind word. En hy was mos die een wat die Here se tempel in Jerusalem voltooi het.
Knap. Visioenêr. Werklik slim. Hoe anders sou hy sy befaamde pa se nalatenskap kon eer?
Nee, Salomo is nie met ’n goue lepel in die mond gebore nie. Hy het bloot, toe die geleentheid hom voorgedoen het, sy mond oopgemaak en wysheid van die Here gevra.
Hy het dit gekry, wysheid en insig en nog heelwat daarby. Soos dit maar gaan met mense wat weet dat hulle van God afhanklik is, en hulle gereed hou om die strome van seën van bowe te ontvang.
Net U, Here, kan ’n nuwe begin só bestuur. U seën die bewerige beginners.
Barend Vos