Lees Psalm 111.
Wysheid begin met die dien van die Here; almal wat dit doen, het ware insig (v 10).
Dit klink so mooi, so reg. Dit glip so maklik van die gelowige se tong af. “Wysheid begin met die dien van die Here.”
Solank gelowiges weet dat dit vir baie mense na opregte onsin klink. Selfs, sal diesulkes giggel, na ware waansin. Hulle sal sê: Wysheid word verwerf. Jy betáál daarvoor. Dit kom eers ná sukkel en swaarkry, ná probeer en tref, ná eksperiment en mislukking. Ná skade en skande.
Gee hulle dit maar toe, liewe gelowige. Daar is wysheid in hul sinisme.
Hoekom sal jy dit wil ontken? Gelowiges is mos oopkop. Hulle gaan met oop oë en oop ore deur die lewe. Hul hart is oop vir nuwe kennis, nuwe insigte, nuwe wysheid. Gelowiges omhels die wetenskap in al sy rykdom. Hulle verwonder hulle oor nuwe ontdekkings, klap hande vir die kleinste nuwe atoom, staan verbyster oor die grootsheid van ’n nuwe verre ster.
Gelowiges praat graag saam oor hul beperkte kennis. Instemmend sing hulle: “How small we are, how little we know.”
Daarom het dit by gelowiges tweede natuur geword, ná die moeisame aflegging van hul slimmighede en die afskeid van al hul gewaande ingeligtheid, om laag te buig voor Hom wat die Gewer van alle wysheid is.
Gelowiges weet dat hul kennis voorlopig is, dat dit op sy beste is soos om in ’n dowwe spieël te kyk en ’n raaiselagtige beeld te sien. Hiermee het hulle vrede, want, sê hulle graag, en met oortuiging, die Here alleen weet.
Genadiglik het U my lankal van al my slimmighede verlos. Gee my wysheid, Here, laat my dien.
Barend Vos