Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

’n Goddelose tyd

Lees Efesiërs 5:15-17.

Wees baie versigtig hoe julle lewe … Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd (v 15-16).

Twee duisend jaar gelede skryf Paulus dié woorde: Ons leef in ’n goddelose tyd. Steeds het niks verander nie. Daarom kan ons aanvaar dat sy raad aan gelowiges oor hoe om in sulke tye te lewe steeds geld, nie waar nie?

Goed, maar wat sou dit prakties beteken? En staan die twee vermanings hierbo nie reg teenoor mekaar nie? Om versigtig te lewe én om die beste gebruik te maak van elke geleentheid? Gryp die dag, ja, maar moet tog nie te wild gryp nie? Hoe kry jy dit reg, en waar trek jy die streep?

Mag ons ons daaraan troos dat die lewe nie ’n eksakte weten­skap is nie? Dat die keuses waarvoor ons elke dag te staan kom, nie by voorbaat ’n uitgemaakte saak is nie?

Dit lyk so, want Paulus maan nadruklik teen onverstandige gedrag. Probeer vasstel wat die Here se wil in elke saak is, sê hy.

Om die beeld verder te neem: Gryp die dag – maar tog nie sonder handskoene nie. Maak dapper keuses – nadat jy daaroor gebid het. Hou jou oë oop wanneer jy jou op ’n plek bevind waar daar besluite geneem moet word – en jy sal die streep sien wat die Here self getrek het.

Onverstandig, in Paulus se taal hier, is om met toe oë in ’n situasie in te dons. Om lukraak besluite te neem. Om jou gevoel oor ’n saak te vertrou.

Dit kan nie. Die tyd waarin ons leef is te goddeloos. Dit tas ons oordeel noodlottig aan.

Daar is goddank ’n alternatief, sê Paulus. Soek dit, volg dit.

Leer my u wil, Heer, u wil vir my. En leer my dit doen, met my hele hart.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.