Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Alternatiewe

Lees Efesiërs 5:18-20.

Moet julle nie aan drank te buite gaan nie … laat die Gees julle vervul (v 18).

Lofliedere, sê Paulus, tog nie dronkmansliedjies nie. Dankgesange, sê hy, asseblief nie ’n geswets van mense wat te veel gesuip het nie.

Dit, sê hy, hierdie lof-en-dank, is die gevolg van die Gees se werk in jou. Die ander moontlikheid is ’n misdaad teen jouself, ’n ondiens aan jou medemens. ’n Gruwel voor God.

Dit is nie dat Paulus hier sy bes probeer om ’n pretbederwer te wees nie, ’n opregte suurpruim wat elke plesierigheid by voor­baat met agterdog bejeën en uiteindelik met ’n vroom gesig afkeur nie. Nee, hy onthou bloot sy eie vroeëre les: verstandig versus onverstandig.

Losbandigheid is sonder meer onverstandig, sê hy. Dit is ’n vergryp aan die vol, ryk lewe wat die Here aan jou geskenk het. Dit speel gure, selfs walglike speletjies met God se groot genadegawes aan jou: die mense wat Hy jou gegee het, jou vermoëns, jou drome.

Die alternatief? Die verstandige ding om te doen, sê Paulus, is om deurentyd perspektief te behou oor waar die goeie gawes vandaan kom. Dank Hom, die Gewer, vir alles.

Hierdie verstandige optrede het sy oorsprong in die Gees wat jou vol maak; dit kom nie uit ’n bottel wat jy leegmaak nie. Dit maak jou bly, nie laf nie. Dankbaar, nie skaam nie. Dit laat jou planne maak, nie verskonings uitdink nie.

Elke oggend is nuut, nie ’n straf nie. Dit helder jou dae op, jy koes nie vir die sonskyn nie. Jy gee groot, vaste treë op jou reis. Jy hoef nie naarstig die beskamende tekens van jou twee rye spore op te vee of te probeer verdoesel nie.

Here, ek is kwesbaar wanneer ek keuses moet maak. Help my!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.