Lees Spreuke 9:1-6.
“Neem afskeid van die onkunde, dat julle kan lewe …!” (v 6).
Die Spreukedigter laat klink dit asof wysheid ’n keuse is. ’n Eenvoudige “ja, asseblief ”, of ’n ferm “nee, dankie”. Asof jy dit kan verwerf deur te reageer op iets soos ’n ete-uitnodiging.
Dalk is hy reg. Dalk is dit die enigste kans wat ons het om wysheid te bekom. Deur daarvan ’n speletjie te maak. Deur ons ’n gesellige tafel te verbeel met ’n oorvloed kos en wyn. Sodat ons kan eet en drink en vrolik wees, en wys word.
Nee, die waarheid lê nie in die wyn nie. En wie kos in die bord kry, het nie noodwendig insig geskep nie. Dit is ook nie die tafel waar jy plaasneem wat die wysheid bring nie, hoe stimulerend die geselskap ook al mag wees.
Ja, dalk is daar ’n sleutel te vind in die huis wat Wysheid gebou het, en straks is die sewe klippilare waarvan hy skryf ’n belangrike leidraad. Maar die hart van hierdie spel lê in die uitnodiging. Die hartlikheid, selfs dringendheid daarvan. Die moeite wat Wysheid doen om haar aanbod so wyd en so luid moontlik te laat opklink.
Sal daar mense wees wat dit aanvaar? Is daar ooit iemand wat hom of haar wil laat leer? Wie is bereid om hul onkunde openlik te erken? Bestaan daar skepsels wat wys genoeg is om te weet dat hulle nie weet nie?
Hopelik, ja. Dalk is dit hulle wat die uitnodiging hoor, nie twee keer daaroor dink nie, maar entoesiasties uitroep: Ons kom! Hou vir ons ook plek!
Hulle weet dat die kans om aan Wysheid se tafel tuis te kom die begin van ’n lang en opwindende maaltyd is. Hier word hulle fynproewerskos gevoer.
Liewe Vader, U is die Opskepper van die goeie. Ons ontvang dit met albei hande.
Barend Vos