Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Kom hoor hier!

Lees Psalm 34:9-14.

Kom, kinders, luister na my! Ek wil julle leer hoe om die Here te dien (v 12).

Vra my, want ek was daar. Ek kan julle eerstehands vertel. Ek weet, ek het dit proefondervindelik vasgestel.

Dít is wat hierdie psalmdigter kan sê. Wanneer hy sy mense van die Here wil vertel, is dit nie van hoorsê nie. Hy praat uit ondervinding.

Deur die eeue was dit nogal ’n strydpunt: Hoe kan jy God ken – deur boeke of deur ervaring? Vind jy God in die bladsye, of is Hy daar waar die lewe in al sy felheid woed? Skuil Hy tussen letters of tussen mense?

Albei bogenoemde standpunte bevat fundamentele gebreke. God is immers geen wegkruiper nie; dit is óns gewoonte daar­die. Hy is die Soeker, die Roeper. Dit is Hy wat óns vind, nooit andersom nie.

Presies wat van God, en hoeveel, wil ons weet? Om wat met hierdie kennis te maak? Verder daarin te grawe? Of wil jy graag hierdie kennis ten toon stel en só ander mense se agting afdwing?

Nee, nee. God is geen voorwerp om te bestudeer nie, geen in­vloedryke Naam wat jy terloops in geselskap kan noem om mense te beïndruk nie. Hy is die Bron van alle verwondering – of jy nou begenadig genoeg is om sy hand in ander mense se verhale te bespeur of om sy voetspore op jou lewenspad te kan sien of om sy Gees oor jou te voel waai. Voor Hom buig jy, dit is wat jy doen.

Ja, oor Hom kan jy eintlik net sing. Maar as jy sukkel om noot te hou, kan jy wel in sy Naam opstaan en grootoog sê: Julle! Kom hoor ’n bietjie hier!

Here, ook ek het so baie oor U te vertel! Leer my hoe, wys my waar en wanneer.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.