Lees 1 Konings 8:41-43.
“Luister ook na die vreemdeling wat nie uit u volk Israel is nie” (v 41-42).
Salomo weet in sy wysheid klaarblyklik iets van God se ruim hart. Daarom bid hy met vrymoedigheid vir die vreemdeling, vir diegene uit ’n ver land wat in die tempel kom aanbid.
Interessant, nè? Dat die koning by die inwyding van iets so intiem-eie aan Israel soos die tempel, vra dat die Here tog ook na hulle, die vreemdes, se gebede sal luister en ook na hulle sal omsien.
Hoe goed het hy, die wyse koning, die Here gehoor! Hoe Hy by vele geleenthede juis die vreemdelinge uitsonder vir sy sorg. Hoe Hy sy kinders aansê om spesiale aandag aan weerloses te gee.
Hoe het dit dan gebeur dat die Here en sy aandag en sy sorg deur die eng nasionalistiese denkers gekaap is? Hoe kon hulle dit so maklik regkry om Hom by hul agenda in te sluit? Dit is immers hulle wat van óns God sou begin praat, en al sy ander skepsels sou uitsluit.
Ja, wat beweeg mense om eksklusief oor God te dink, terwyl Hy ons nooit daartoe aanleiding gee nie? Terwyl Hy dit uit die staanspoor duidelik maak dat die aarde in al sy volheid aan Hom behoort? Wie gee my dan die reg om Hom vir mý klein hoekie op te eis?
Dit is dus geen wonder nie dat mense soos ons verward raak wanneer dit blyk dat sy arms langer en sy skouers breër is as wat ons ooit sou dink. Dat ons ons selfs daarteen verset as dit duidelik word dat ons God ook hulle God is. Dat daar inderdaad ’n veelheid onse in sy pond is.
Here, dankie dat U my ook u kind gemaak het. Dat ek nie vir U vreemd is nie.
Barend Vos