Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Tuis

Lees Psalm 84.

Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel … as om te woon in huise sonder God (v 11).

Gelowiges ken hierdie psalm, en al kan hulle dit dalk nie opsê nie, is die ryke inhoud daarvan ’n belangrike deel van hul verhaal. Sommige sal ’n verhandeling hieroor kon skryf, ander dalk net ’n opstel, en daar is dié wat dit in ’n enkele paragraaf sal saamvat. Daar is ook gelowiges wat net daaroor kan sing: Hoe lieflik is u woning, Heer!

Dit is ’n voorreg om deel van dié koor te wees, of dit nou met stem of pen is. Want daar word dikwels van gelowiges gesê hulle is nie op hierdie aarde tuis nie; die wêreld is hul woning nié. Hulle is wel ín hierdie wêreld maar nie ván hierdie wêreld nie. Hulle is bywoners, tentopslaners, vreemdelinge op ’n deurreis.

Hiér is hul skuilplek. Saam met die voëls van die hemel het hulle hierdie holte vir hul voet. Al skarrel die duiwe net op die dak rond en al kom jou voet net soms oor die drumpel. Die alternatief is te erg om aan te dink.

Ten spyte van mense se wispelturigheid, ampsdraers se ontrou, hul eie verraderlike hart, het gelowiges dit deur die eeue beleef: God se stem in daardie plek, al was dit soos ’n fluistering; sy aanraking, al was dit soos ’n luggie deur ’n oop venster; sy teenwoordigheid, al was dit soos die reuk van vloerpolitoer. Onmiskenbaar, dié stil oase in hul woestyn. Onmisbaar.

Hulle sal nie eens daarvan droom om dit te ignoreer nie. En mis­kyk? Nooit! Dié soort nagmerrie is gans te goed aan hulle bekend.

En ek, Here, ek sal in die huis van die Here bly, tot in lengte van dae.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.