Lees Johannes 6:53-69.
Toe vra Jesus vir die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?” (v 67).
Dit sou Simon Petrus wees wat Hom antwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan?” (v 68).
Bolangs beskou, sou ons, hedendaagse gelowiges, ons hiermee kon vereenselwig. Jesus is die Een wat van God af gekom het, wat die woorde het wat lewe gee, wat ons na Hom toe trek. Na wie toe sal óns gaan, anders as na Hom, wat tot by ons gekom het?
Maar ons kan nie eintlik Petrus se kalm antwoord ligweg aanhoor en sommerso daarmee saamstem nie. Petrus en sy makkers het immers alles wat hulle gehad het agtergelaat om Jesus te volg.
Terwyl die klomp nuuskieriges en kansvatters en die wat-kan-ék-daaruit-kry-brigade begin dros, het die klein dissipelkring geen keuse gehad nie. Hulle sou by Hom moes bly. Hulle het geen heenkome meer gehad nie, g’n ander adres nie. Hulle sou moes gaan waar Hy gaan. Al was sy woorde dikwels, ook vir hulle, “te erg” (v 60). Al sou hulle ook by geleentheid vra: Wie kan dan gered word?
Al sou hulle dikwels twyfel, foute maak, dom besluite neem, sou hulle telkens besef: Hy is al wat ons het. Hulle het geweet waarvandaan Hy kom én dat Hy tot by hulle gekom het. Hulle het sy woorde gehoor en geweet waarheen dit hulle sou lei. Hulle was in sy omvattende liefde vasgevang.
Dit is slegs daardie gelowiges vir wie dié intieme verbondenheid steeds ’n troos is wat Petrus se antwoord kan beaam, al kom dit soms huiwerig, stotterend. Hulle weet dat hulle, goddank, net die een toevlug het. Die een Toevlug.
Daar is geen ander hulp of troos vir my. Bly by my, Heer!
Barend Vos