Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Watter god?

Lees Josua 24:1-2a, 14-18.

“Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien” (v 15).

Die volksleier roep sy mense almal saam en gee hulle ’n oorsig van die Here se sorg in die verlede. En soos altyd speel die geskiedenis in Egipte ’n belangrike rol. Ook die trek deur die woestyn en die uiteindelike aankoms in die land wat hulle belowe is.

Maar Josua se eintlike saak met sy volk is dié oor die gode. Die Egiptenare het baie gode gehad, soos ook die woestynnasies. Toe die trekvolk in die beloofde land aankom, het hulle ook daar ’n hele falanks gode aangetref. Dit is hieroor wat Josua hulle byeen­geroep het. Hulle sou moes kies.

Hoe kies ’n mens tussen gode? Kies jy die god van jou bure? Dit is sekerlik die veiligste, die weg van die minste weerstand. Ten minste is hy bekend in die omgewing en sal hy jou dalk ook teen indringers beskerm.

Of kies jy die een wat by jou huidige behoefte pas? Hy is im­mers ’n spesialis op sy gebied. Daar is egter verskeie uitdagings verbonde aan die aanbidding van die god-vir-elke-geleentheid. Jy moet onder meer goed weet wie pas by wat, anders begaan jy dalk noodlottige berekeningsfoute.

En natuurlik moet jy daarmee rekening hou dat gode jaloers is op mekaar. Moet tog nie midde-in ’n gode-oorlog beland nie …

Eintlik is dit heel eenvoudig, sê Josua. Kies die God wat jou gekies het. Sê ja vir Hom wat uit die staanspoor vir jou en jou mense ja gesê het. Hy het dit gedoen omdat Hy opreg besorg is oor jou en julle. Omdat Hy julle liefhet. Omdat Hy, die Ewige, bevrees is julle vind te laat uit dat afgode ’n vervaldatum het.

Here, ook ek en my familie behoort aan U. U het ons gekies, o ewige God!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.