Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Regeerders

Lees Psalm 45:1-2, 6-9.

U troon, verhewe wese, staan vir altyd vas (v 7).

Nogal vreemd vir die Bybel, nie waar nie? Hierdie lofsang vir die land se koning. Die lofsanger draai die krane oop, besing sy koning in die oortreffende trap. Noem hom “verhewe wese” (v 7-8), ’n gesalfde van God, ’n vreugde vir sy onderdane.

Sjoe! Het konings dan pryssangers nodig? Besing hulle nie maar uiteraard en met groot oortuiging hul eie lof nie? Het vorste nie maar altyd hul eie tamboer geslaan nie?

’n Meer uitdagende vraag is egter: Hoe moet ons, hedendaagse Bybellesers, oor hierdie soort lied dink? Kan ons hier hoegenaamd saamsing?

Dalk tóg. Kyk, in die bundel liedere en gebede wat ons die Psalms noem, is daar ’n deurlopende, vaste oortuiging dat die Here in beheer is. Dat Hy sorg en versorg, van altyd af en vir altyd. Dat Hy mense in sy diens het – priesters en profete, en, ja, konings – om sy volk se belange op die hart te dra. Hy hou hulle, hierdie ampsdraers van sy Naam, verantwoordelik vir sy kinders se welsyn.

Dit is daarom dat Jesus later sou sê gelowiges moet hul keiser eer, en dat Paulus opdrag gee dat vir die regeerders gebid moet word. Hulle is God se gesante, al weet hulle dit nie. Al misbruik hulle die posisie waartoe God hulle verhef het. Hieroor sal Hy rekenskap van hulle vra. Hý sal hulle oordeel.

Intussen, gelowiges, prys maar die presidente wanneer hulle goed doen en bid vir hulle wanneer hulle droogmaak. Vra die Here vir ’n rustige, stil lewe. Vir ’n koning wat tot sy eer regeer, in diens van die Here se afhanklike, weerlose kinders.

Here, keer my as ek weer ’n klaaglied wil aanhef! Leer my bid vir die leiers in hierdie land.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.