Lees Jakobus 1:17-27.
Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie (v 19).
Prontuit staan dit hier, vir mense wat geseënd genoeg is om iewers ’n sê te kan hê: die beste raad ooit. Maar sal die geseëndes hulle hierdeur laat leer? Weet hulle, die praters, dat dit voortreflike raad is?
Want hoekom sou Jakobus dit nodig vind om dit so blatant, so eenvoudig, uiteen te sit? Soos vir kinders?
Dalk omdat die praters so besig is om te praat dat ons Jakobus beswaarlik hoor. Want dit is mos wat gebeur wanneer jou stem hard opklink – jou ore is daarvan vol. Én jou hart en jou siel en jou verstand. Want met ál jou krag voer jy die argument, ter aanval of ter verdediging.
’n Regte klein advokaat, het die mense gesê, nie sonder bewondering nie, toe die prater nog klein was. Maar toe die kleuter nie grootword nie en die mond nie stiller nie, toe word dit ’n irritasie. Toe dit later boonop blyk dat die grootprater niemand anders ’n mening gun nie, vir niks en niemand stilbly nie, nooit wil luister nie, woedend word as ander iets te sê het, tóé word dit ’n aanstoot.
Daarom skryf Jakobus hieroor, hier tussen die groot waarhede oor God se goedheid en genade en die woord wat Hy in mense soos ons geplant het. Sodat ons aanhoudende geklets tog nie dié goeie woord sal uitdoof nie. Sodat ons tog net ’n oomblik sal stilbly om ’n ander se stem te hoor, en ’n ander Stem.
Sodat ons ophou bulder, ophou almal oordonder, dat ons die Gees se fluisteringe kan hoor.
Snoer my mond, Here, wanneer ek U en my medemens in die rede val. Red my van my eie geraas.
Barend Vos