Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Wysheid en insig

Lees Deuteronomium 4:1-2, 6-9.

“Gehoorsaam die voorskrifte en lewe daarvolgens, want daaraan sal die ander volke sien dat julle wysheid en insig het” (v 6).

Israel se destydse wette is vir baie hedendaagse Christene ’n ver­leentheid. Die stringe voorskrifte in byvoorbeeld hierdie einste boek Deuteronomium en ook die voorafgaande Levitikus. Ons blaai liefs daarby verby. Dit kan regtig nie op óns van toepassing wees nie!

In die Nuwe Testament word lig hierop gewerp wanneer nie­mand minder nie as Jesus, en nóg later Paulus, dié klomp wette in perspektief stel. Jesus sê trouens Hy het hierdie wette hul volle betekenis kom gee. Hulle is in sy menswording vervul (Matt 5:17-48).

Maar wat presies beteken dié “vervul” en “volle betekenis”? En hoe raak dit die baie bladsye in die Bybel waar hierdie wette steeds staan? Kan ons dit dan maar uitskeur en opskeur?

Ek is nie so seker nie. Waarvan ek wel doodseker is, is dat ons nie lukraak kan besluit watter van die klomp wette ons moet toe-pas en watter nie. Dat ons nie, byvoorbeeld, dié wat vir ons goed en reg klink vir ons kan toe-eien, en dié wat darem regtig vir ’n ander tyd bedoel is, kan ignoreer nie. Wie wil daardie besluit neem? Wie sal dit waag om hier God te speel?

Dalk kan juis hierdie klompie verse in Deuteronomium ons help. Kyk, wysheid en insig is tydlose begrippe, al het elke tydvak en elke kultuur ’n eie siening oor wat presies dit behels. As God se kinders uit alle kulture en deur alle eeue ’n getuienis van wysheid en insig wil uitstraal, dan sal hulle mos weet hoe om dit te doen. En haarfyn verstaan hoe “gehoorsaamheid” en “lewe daarvolgens” vir hul tyd en in hul omstandighede lyk.

Ag, Here, dalk is dít my éintlike probleem: gehoorsaamheid in my doen en late.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.