Lees Psalm 15.
Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef? (v 1).
Ja, wié? Want die psalmdigter stel die dwarslat baie hoog: die onberispelikes, die waarheidpraters, die liefhebbers van die naaste. Hulle wat nie vatbaar vir omkopery is nie, wie se woord hul eer is. Dié wat nie omgee om skade te ly nie, solank hulle maar net die regte ding doen.
Hoog, ja, hemelhoog. En ek kom nie daarby nie, nie eens naastenby nie. Ek slaag trouens nie een van daardie toetse nie.
Dit het sin om te dink dat net spesiale mense God se ligkring kan deel. Dit is immers die plek waar die engele sit en sonder ophou uitroep: “Heilig, heilig, heilig …” (Op 4:8). Dáár is sekerlik nie plek vir kansvatters soos ek nie. Dit is nie my plek nie.
Wat doen ek nou? Want ek kan nie sonder Hom nie, ten spyte van my groot mond, my gewaande onafhanklikheid van God en sy gebod. Hoe moet ek maak?
Dalk moet ek niks doen nie. Terwyl my onheiligheid my elke dag in die gesig staar, moet ek dalk bloot vir Jesus glo wat herhaaldelik gewys het dat Hy onheiliges in die oë kyk. Vir Saggeus, vir die vrou by die put, die vrou wat sy voete salf, die vrou wat op owerspel betrap is. En omtrent in elke verhaal waar Hy na sy dissipels kyk.
Tot vandag toe is dit só met mense soos ek. Al wat dit beteken vir mense wat nie na God toe mag gaan nie, is dat hulle maar kan glo Jesus het namens hulle na God toe gegaan. Hý mag maar, en Hy het.
Wat ’n Vriend het ons in U, Here Jesus! U wat in ons plek kom staan het.
Barend Vos