Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Altyd by ons

Lees Spreuke 22:1-2, 8-9, 22-23.

Moenie ’n arm mens te kort doen omdat hy arm is nie … Die Here sal hulle saak behartig (v 22-23).

Ons, die rykes, ons wat skoene dra en boeke koop en dus die boon­ste ekonomiese laag in die samelewing vorm, ons het nog altyd die ongemaklike vermoede gehad dat die Here partydig vir die armes is. Daar is immers Bybelverse soos dié wat dit bevestig, en daar is boonop baie waar dit vandaan kom.

Waar laat dit ons, behalwe met ’n vae skuldgevoel? Wat in elk geval maklik is om te verwerk – ’n aalmoes hier en ’n bydrae daar

– en nóg makliker (en goedkoper) is om te ignoreer?

Ons, die rykes, is veral ook goed daarmee om hieroor te rasio­naliseer: Die staat moet sorg, ek betaal belasting. Of: Ek het hard gewerk vir wat ek het, ek het nie tyd vir leeglêers wat bakhand staan nie. Of dié vrome gunsteling: Sê die Bybel dan nie dat ons die armes altyd by ons sal hê nie?

Ja, dit is maklik om van armes en van die gevoelens wat hulle by ons ontlok, ontslae te raak. Dit is moeiliker om van God te vergeet, en van sy kantkiesery. Daarby kom die ongemaklike wete dat Hy nie van ons, die rykes, vergeet nie en ook nie van die opdragte wat Hy vir ons het nie.

Ag, en dan is daar boonop die knaende ongemak: Wie het nou weer hiérdie spulletjie oor my pad gestuur, tot by my voordeur laat kom, tot in my gewete laat indring?

Kan ek dit weer waag om hulle te verjaag?

Here, Gewer van al my gawes, ek dank U vir my oorvloed. U het voorwaar hard gewerk vir wat ek het.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.