Lees Psalm 125.
Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk, nou en vir altyd (v 2).
Dit is ’n tipiese pelgrimslied, dié Psalm 125. ’n Lied vir loop-en-saamsing, vol sekerhede en dankbaarheid en die uitgesproke wens dat die Here goed moet wees vir hulle wat goed is en tog die onregverdiges moet straf. Eg menslik, en eg gelowig.
Dit is so dat gelowiges nie altyd dieselfde dinge op dieselfde manier en met ewe veel sekerheid glo nie. Daar is byvoorbeeld diegene met min twyfel oor God se plan vir hul lewe. En daar is ander wat dit elke dag ontdek en herontdek. By hulle gaan dit maar soek-soek.
Dan is daar dié wie se soektog nooit ophou nie en wat nie bevredig word deur wat hulle wel vind nie.
Daar is mense wat gereeld vra: Hoor U my? Sien U my? Luister U as ek roep? Stel U belang in my? En in die dapperste oomblikke selfs: Is U hoegenaamd daar?
Die pelgrims wat hierdie psalm so hartlik sing, vra nie sulke vrae nie. Nee, al wat hier gehoor word, is die juiglied oor God se onweerlegbare trou, “nou en vir altyd”. Soos so baie gelowiges het ook hul geloof ’n geskiedenis: Hulle is nie die eerstes wat hierdie lied sing nie. Die God van “nou en vir altyd” is dieselfde onwankelbare Een wat Sionsberg vas laat staan.
Uiteindelik is die verlede sekerlik ’n belangrike oorsprong van gelowiges se sekerhede. Ons en ons voorgeslagte se geskiedenis met God. Daarom kan ons Hom vra net wat ons wil. Ons praat immers nie met ’n vreemdeling nie, maar met die vertroude Een, die Geliefde.
Ek sê graag ek glo vas in U en u goedheid, Here. Help my wanneer ek sukkel om te glo wat ek sê.
Barend Vos