Lees Jakobus 2:14-17.
Wat help dit … as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? (v 14).
Jakobus los ons nie uit nie. Ons bly in sy visier, ons wat sê ons glo. Hy vra weer: Waar is die bevestiging van dié bewering? Anders kan dit ten beste beskryf word as sogenaamde geloof.
Dan moet daar van diesulkes gepraat word as sogenaamde gelowiges. Mense wat na bewering glo. Daar sal altyd ’n vraagteken oor hul geloof hang, totdat hul geloof bevestig word. Hoe gebeur dit? Deurdat jy doen wat jy sê.
Jakobus waarsku teen die wanopvatting dat geloof ’n saak van handjies-vou en amen-sê is. Van hande in die lug gooi en halleluja skree. Van vroom praatjies en lang gebede.
Nee, sê hy, maak oop jou oë. Kyk na wat die Here jou wys. Maak daardie geklemde hande oop. Gee aan wie Hy na jou toe stuur. Sien af van die gewoonte om jou geloof aan eendersdenkendes ten toon te stel en aan jouself te probeer bewys deur gebede en gebare, lofliedjies en luidrugtigheid.
Gaan wys jou geloof aan die armes. Bewys jou bewerings aan die behoeftiges. Anders is jou verbete geloofsbeoefening ’n groteske blufspel. ’n Uitgerekte lyksrede, sê Jakobus, want dan is daardie geloof dood.
Hierdie beweerde, sogenaamde geloof speel dalk ook ’n rol in gelowiges se skynbaar nimmereindigende stryd teen twyfel. Want dit blyk dat gelowiges wat twyfel, hul uitweg in selfs meer toegewyde geloofsbeoefening gaan soek. Nóg meer gebede, nóg luider liedjies. Terwyl die oplossing buite die kerkdeur staan, bibberend, met bak hande.
Ag, Here, niks hiervan is vir my nuus nie. Maar dit bly vir my ongemaklik om dit te hoor. Help my!
Barend Vos