Lees Markus 7:24-37.
Jesus het die mense belet om dit vir iemand anders te vertel, maar hoe meer Hy hulle belet het, hoe meer het hulle dit verkondig (v 36).
Daar is heelwat oor hierdie twee genesings te sê. By een was ’n man betrokke wat nie kon praat nie, by die ander ’n vrou wat nie haar mond kon hou nie. En uiteindelik is daar ’n skare wat ten spyte van Jesus se verbod sonder ophou hieroor gebabbel het.
Dit kon kwalik meer uiteenlopend wees: Daar was die vrou wie se kind siek was, wat vir Jesus gevra het om Hom oor die kind te ontferm. Maar die vrou was ’n buitelander, ’n nie-Jood, en sy beroep haar op die Joodse wonderwerker. Hy wys haar daarop dat sy agter in die ry moet gaan inval.
Maar sy, nie op haar mond geval nie en min gepla oor die protokol, antwoord Hom nogal skerp. Hy gee dadelik toe aan haar versoek, “op grond van wat jy gesê het” (v 29).
Dan was daar die doofstom man. Hy kon niks sê nie. Ander mense praat namens hom en vra dat Jesus hom moet aanraak. Hy doen dit toe nadat Hy die man eenkant geneem het, en sy dubbele gebrek word genees. Toe begin die tonge klap …
Dit is nogal iets om oor te praat! Teoloë het deur die eeue heelwat hieroor te sê gehad, ook oor Jesus se swygopdrag. Maar om oor Jesus se barmhartigheid te praat, die bekendheid én die vreemdheid daarvan, herinner ons dalk aan die dankbaarheid wat ons aan Hom verskuldig is.
Dalk begin ons dan sommer ook vertel wat Hy alles vir ons gedoen het.
Tot vandag toe, Here, genees U mense soos ek. En luister U geduldig.
Barend Vos