Lees Jesaja 35:4-7a.
Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het: “Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier” (v 3-4).
Die vermoë om ander mense te bemoedig, is ’n wonderlike gawe. Dit is nie aan almal gegee nie. Dit vra immers goeie oë, dié wat van jouself af kan wegkyk en ander se moedeloosheid en vrees raaksien.
Dit vereis ook ’n geloofsoog, een waarmee jy verder as jou eie radeloosheid kan kyk en iets van God se plan kan raaksien. Ag, eintlik word daar nie versiendheid of selfs besondere insig van die trooster gevra nie. Dalk bloot die vermoë om God raak te sien en te sê: Hy is hier, hier by ons.
Almal wat hieraan herinner word, kan nou ook hul kop oplig, die trane afvee en begin droom. En, nee, dit is ver meer as onhaalbare dagdrome en vergesogte verbeeldingsvlugte. Dit is om jou gereed te maak om God se wonderwerke te begin raaksien.
Hulle, Hy, was nog altyd daar, maar toe jou knieë geknak en jou skouers gehang en jy met jou gesig grond toe gestaan het, kon jy niks hiervan sien nie. Nou is dinge anders. Nou is jy getroos.
Getroosdes kyk met nuwe oë. Hulle verstom hulle aan wat hulle eensklaps kan sien: God in aksie. Hulle het laas nog gekla oor hul gebede wat teen die plafon stuit, en nou praat hulle met God soos ’n kind met ’n pa en ’n ma. Vrymoedig, opgewonde. Sê hulle: Kyk daar, Pappa! Sien Mamma wat ek sien!
Troosters en getroosdes deel dieselfde wete: Hul God is so naby aan hulle soos die skaduwee aan hul regterhand.
Ek sien, Here! Ek sien U en u wonderwerke. Genees tog my stiksienigheid vir altyd.
Barend Vos