Lees Psalm 146.
Ek wil die Here prys so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is (v 2).
Eintlik moet ’n gelowige nie hierdie psalm léés nie, en predikers moet hulle daarvan weerhou om hieroor te wil preek. Dit is ’n lied dié, ’n pryslied wat met blye galme gesing word.
Hier sing jy oor die blye, bevrydende wete dat jy nie op prinse en presidente hoef te vertrou nie, dat hul asem korter is as wat hulle in hul grootheidswaan mag dink. Dat hul slegte planne gefnuik word deur die Een wat na sy kinders omsien.
Ja, jy sing oor die goeie God van jou vaders en hul vaders. Oor jou hoop vir die toekoms wat op Hom alleen gebou word, omdat jy reeds iets van sy mag en krag gesien het. Maar veral ook omdat jy sy geskiedenis met jou en jou mense ken.
Jou lied gaan oor sy goedheid vir hulle wat sukkel, wat swaarkry. Wat geen ander uitweg as Hy het nie. Wat opgesluit en afgestomp leef omdat die lewe sy rug vir hulle gedraai het. Nou sing jy omdat Hy sy oog op hulle gerig hou en sy hand styf om hulle vou.
Jy sing dit alles met blye galme as jy een van hulle is, en met ingetoë dankbaarheid as jy een van die gelukkiges is wat sulke swaarkry gespaar is.
Jy sing omdat jy dankbaar is dat die goddeloses se invloed teëgewerk word deur die Here se troue sorg.
En omdat dit alles vir altyd so sal wees.
Prys die Heer met blye galme, o my siel, daar’s ryke stof! Ek sal solank ek leef my psalme vrolik toewy aan sy lof.
Barend Vos