Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Wysheid

Lees Spreuke 1:20-33.

Wysheid is ’n vrou wat langs die straat staan en roep … op die stadspleine, sy roep bo die rumoer uit (v 20-21).

Die Spreuke, darem! Reguit, op die man (vrou) af, skrynend eerlik. Dikwels ongemaklik om aan te hoor. Hoor dan nou hier: onkun­diges wat verbete aan hul onkunde vasklou; grootpraters wat hul eie slimstories gate uit geniet; swape wat niks van kennis hou nie.

Dit is geen wonder daar is so ’n rumoer op die stadsplein nie. Soveel onsin soos hierdie spul darem verkondig. En so luidrugtig!

Sal hulle Wysheid se aanbod hoor? Sal hulle ag slaan op haar teregwysings? Is hulle bereid om die oorvloed aan te gryp wat sy hulle bied? Is hulle gereed om waarlik ingelig te word?

Die kanse hiervoor, lyk dit my, is nie te goed nie. Hierdie soort mense het nog nooit daarvan gehou om goeie raad te aanvaar nie. Hulle is slim genoeg, sê hulle. Hulle weet omtrent alles en kan self dink, dankie.

Nou ja, dan moet hulle maar vat wat na hul kant toe sal kom: die ongeluk, die angs, die nood en kwelling. Hulle het hul kanse gehad, maar het hulle nie aan Wysheid se aanbod gesteur nie.

Vir niemand wat al ’n bietjie geleef het, is hierdie verloop ’n verrassing nie. Dit is maar soos dit is, al is dit ongemaklik om te moet hoor.

Die vraag vir die kopskuddende leser is ewe ongemaklik, en so pertinent soos wat die boek Spreuke maar kan wees. Dit klink só: Hoe slim is jý? Hoe groot is jóú mond? Laat jý jou leer?

Here, verlos my van my ingeligtheid oor alles en nog wat. En van die geneigdheid om dit luidkeels te verkondig.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.