Lees Psalm 19.
Weerhou my van opsetlike sondes, laat hulle nie oor my heers nie (v 14).
Ook hierdie psalm moet liefs nie bestudeer en veral nie bepreek word nie. Nee, wandel rustig daardeur en laat die beelde oor jou spoel. Verwonder jou oor die poësie, al is dit in ’n vertaling. En aan die ryke beelde wat hier geskilder word.
Dalk kan jy dan saam met die hemel oor God se majesteit getuig. Dalk ervaar jy dit in die lewensfase waarin jy nou is. Dalk is jy bevoorreg genoeg om dit te beleef op die plek waar jy jou nou bevind, van waar jy die wisseling van dag en nag verwonderd kan dophou.
Vereenselwig jou dan gerus met die oorstelpte digter se sug: “Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here …” (v 15).
En wees bly oor die lewenslesse wat tussendeur uitgedeel word, dié oor die Here se woord wat wysheid bring en oor sy gebooie wat insig gee. Oor sy kosbare voorskrifte. Skaar jou by die digter wat sê die Here se dienaar laat hom hierdeur leer, omdat die Here al die wysheid in pag het en sy volgelinge kennelik nié. Want: “Wie sien sy eie dwalinge raak?” (v 13).
Maar hoe nou gemaak met die dwalinge wat jy wel raaksien en waarmee jy bloot voortgaan asof dit niks is nie? Die opsetlikes, die voorbedagtes?
Is dit hoe dit lyk as eiebelang begin heers, ook in jou bevoorregte lewe? Berus jou dan daarin dat boosheid jou baas word, dat jou lewe oorheers sal word deur planne wat nie deur die Here vir jou gemaak is nie. Deur duistere drome wat die begin van ’n uitgerekte nagmerrie gaan word.
Skud my wakker, Here! Wys my weer die stralende gang van u geregtigheid.
Barend Vos